rus vir die bedorwe bene
waaruit die murg daagliks droog
rus vir die ou sagte stene
waarmee bouers aanhou sloof
rus vir die knakkende knieë
wat heeldag pynlik knaag
rus vir die gestremde sleë
wat eindeloos sal bly skaaf
rus vir die soekende saailand
wat jaar na jaar bly warrel
rus vir die hulpelose hand
wat rusteloos skommel en skarrel
rus vir die gestreepte sterre
wat heelnag brandend gly
rus vir die skellende skêre
wat stomptand aanhou sny
rus vir dié met veelvoudige vrees
verby wie U stem bly vloei
rus vir dié met vyandige vlees
wat alewig teen dit stoei
O Vader!
ek bid U rus vir elk in dié gehoor
sodat ons saam U kan beweeg
ek bid dat ons U fluisterstem sal hoor
en vandag weer ‘n keer sal leef