gewoontes

Opstanding uit die Dood

Vir die gelowiges (en veral vir myself);

Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar.

Filippense 3:7‭-‬15 AFR53 (klem bygevoeg)

Opstanding uit die dood (en om aan Sy dood gelykvormig te word) is nie net ‘n eenmalige geloofstap wat jy neem nie – dis iets wat ons aangeraai word om daagliks te jaag om te gryp, met die doel om die prys te kry van ons hoë roeping van God in Christus Jesus.

Met God se hulp (wat ek onder andere sien as die Heilige Gees se leiding in ons persoonlike verhouding met Hom en Sy oortuiging wanneer ons Sy woorde in die skrif lees), kan ons, ons ou mens (met al sy verslawings aan die dinge van die wêreld – insluitende al hierdie verskillende vorms van digitale kokaïne wat meeste van ons onophoudelik en blindelings snuif) laat afsterf en in ons hoë roeping beweeg.

WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.

Psalms 1:1‭-‬4 AFR53

Soek ons die Here in al ons weë en bring lewe en vrugte voort? Of is ons dae vol kaf wat die wind verstrooi?

Share

In Ons Midde

Waar is U in hierdie situasie?

Die een waar ons gewrigte en bene droog en uitgeteer voel, en kraak en knak van die daaglikse verstek.
Waar die seesand ons verrimpelde voete weg kerf en die water stewige lae sout oor ons spoel.
Waar ons oë soos ou kole smeul in die knersende koue van winter, wat ook ons vleis hard en koud giet.
Waar ons onsself eindeloos probeer ontdooi met bekers stomende koffie, maar dit ons net al meer bedwelmd laat voel.
Waar ander mense agter skerms weg flikker en dit voel of daar geen strome van U lewende waters deur ons vloei.

U is in dit. Met U fluisterstem – naby genoeg dat ons U kan hoor as ons maar net ‘n oomblik vat om tussen ons knorre, gromme en verstrengelde gewoontes te kan luister.

Share