Introspeksie

Is dit verregaande, of vreemd, dat mens,
deur agteruit te kyk,
nuwe visie, en dalk hoop,
vir die pad vorentoe kan kry,
wanneer jy jou jakkalsdraaie styf vas knoop?

Of is dit beter om nét vorentoe te kyk,
in die wit mis van die toekoms
en voor te probeer berei
vir ‘n afdraand, of opdraand,
wat dalk net… ‘n dowwe draai pad bly?

Is wat die wysheid leer,
met enige balanseertoertjie,
op die lewenslange tou,
dat daar een luukse truuk is,
van Waarop mens sy blik kan hou –

ja almal se paaie meander…
en alles bly konstant verander…
so wat mens deurlopend staande
kan laat bly… is om mens se sig
te hou op waar Die voete trap

– vandag, nou?

Share