Om Mee te Gee

Skaamte klop wanneer die see se stilte
asemrowend reusagtig raak –
wanneer mens se hawelose hart
te veel, te swaar, skipbreuk gely het
en nie nog ‘n keer die rou rotse wil smaak nie.

Stilte sluip in wanneer jou gebroke gedagtes
en halwe handelinge só geruis opwek
dat enige suiwer, sout-smeulende seine
deur jou onwetend-wetende ore
voluit versmoor word.

Diepe-slaap kom kuier wanneer mens nie eers
meer wil probeer probeer nie –
dat die gruwe grond, vir jou droog-gehuilde oë,
na ‘n amper aantrekliker opsie bly blyk –
eerder as om jou bloeiende hart dalk bloot te stel
aan enige iets wat jou huidige toestand kan verbrand. 

Frustrasie bly darem hardboudig sit,
soos ‘n getroue oumensie op ‘n sitkamer-stoel, 
om die waarheid te onderskei; 
dat jou skreeuende gaste die swakkeres verdoof –
en dat jy weer gekonfronteer kan word met die kies van ‘n daaglikse keuse:
watter lewend- of doodmakende wil,
gaan jy vandag laat meegee.

Share