Dit is maar met
‘n lang lyf
wat mens moeg
die horrel huis
bedaard betree
en sieldodend sien
dat die klosse kakiebos
dit nog oerwoudelik oorrompel.
Dis maar ‘n seer straf
nadat jy klaar kapoet
heeldag heen-en-weer
die buite grond gaar
bewend bewerk
het en dan nog nodig
het om jou hele huis
van ‘n orige orkaan
se slap skade
treurig terug te timmer
na hoe dit waarlik was
die vorige ander aand.
Gee ons krag vrymoedige Vader
ons voel versmoor
deur pleitend te probeer
om die ordinêre orde
van kop bo bakke bly
volhoubaar te volhou
en as blerrie beloning
vyf sakkies sekondes
oor te hê om net neerhalend
en moer moeg
ons pakke passies
te moet laat groetend gly
want ons sukkel so
om na al die orde se skep
net wakker te probeer bly.