Die moegheid klem soos ‘n droë lap my sinne vas,
my gedagtes stoei teen die rek wat elke nou en dan my oë toe trek.
Dis moeilik om by U uit te kom Vader,
waarom steun U vreugde my nie?
Ek soek soos ‘n bruinbevlekte en droëlip skaap na U waters, daar waar ek U stem hoor.
Waarom is U riviere so vêr so vroeg in die môre?
My hart is om in U getuienis van my te wandel wanneer die son die aarde bak,
Maar hoekom dra ek steeds slaafs aan ‘n juk wanneer ek voor U aangesig kom kniel?
Die vlees is swak, maar die Gees is gewillig.
Wat mis ek Abba? Haas tog en wys my asseblief die geslote sluis in my siel!
Ek sien…
Vandag werp U die lig op die verwronge gedagtes,
sodat ek anders kan dink,
en môre kan sien hoe ek anderste is.