In die begin is selfs die snik van die muur se klok onhoorbaar sag so
tussen deur die gedreun van die murmurerende maan
en al die sterre wat so vassteek in die wol van winterwolke.
In die begin gee my ore hulle lawwe probeerslae om enigeiets te help hoor
maar die swiep van rowende roetines
verdoof en bind my sinne vas met klomp klein tengerige toutjies.
So bietjie later breek die gloeilamp met sy gretige gons
die stilte soos my vingers soekend soos remmerige ratte
die hipotetiese stof op die knoppe van ‘n verhulde sleutelbord slaat.
So bietjie later hoor ek hoe die tydlose druppel van hoop homself plat plak
teen die droë bodem van die emmer wat ek al vir koninklike kere
gebruik om die afvallighede van my woning te was.
Maar nou lê ek net met die bede dat ek môre meer soos vannag vandag
kan stap met ‘n emmer wat omtrent oorloop
sodat ek die onsaligheid van my siel met ‘n messelaarshand kan weg was.