Jy Het Kom Kuier!

Ek onthou dit goed – jou oë het geblink soos twee kraletjies, en jou modderbruin veertjies het deur die druppeltjies mis gefladder – mis wat die koue Augustus son hard na die hemel toe probeer trek. Jou donker kloutjies het saggies – soos klein wurmpies – aan die vaagweg-bekende murasie teen die dak geknyp.

Jy was by die regte adres, maar jou huis het ongelukkig in die donker wolk na jou seisoenale wedervaart verbrokkel – die konstante kners tussen somer se droogte en die damp van die koue atlantiese waters het jou konstellasie van vleiland spoegsels kom verswak. En toe jou blinkvlerk teenstaanders met hul bloeddorstige snawels jou vere kussings kom verniel, het jou modderhuis sy laaste asem uitgeblaas. Dit was ‘n saak van treur – selfs die wit wolf se nat neusie het geklink of dit snik soos hy deur die stukkende donsies en klonte snuffel.

Ek’t jou huis darem op geborsel en gesaai in ons plante in – hulle kon doen met meer van ‘n huis soos joune.

Jou vere kussings en die murasie.

Terwyl jy weg was het daar ‘n koerende pokkel kom nes vat tussen die hoë kratte en struikelende lug-plante. Ons het hom vinnig gedoop – Sarel. Ons duif; die een wat alewig geterroriseer word deur ons wit wolfie.

Sarel onder sy (vorige) huis.

Sarel het op die ou end vrou gevang (die uwe Sandra) – julle geveerdes laat dit nogal maklik voorkom. Dis iets waaroor ons gemengde gevoelens gehad het – ons was bly vir hom, maar die kas onder hulle nes moes waai (p.s. ons verkies loshande julle boumateriaal, hulle s’n het net bestaan uit tweedehandse insekte…).

Die wit wolf besig om ‘n onskuldige langbeen ding te terroriseer.

Die skuif was maar net-net betyds. Na ‘n paar uur se sinnelose fladder teen die dak en muur vas, het hul besluit om nes te maak in ons potplant, waarin Sandra twee dae later geboorte geskenk het aan twee, gesonde, spierwit eiers.

Siestog, ek moes die plant skuif sodat Sarel nie nat reën nie (ek sien nie baie vir Sandra nie, sy speel goed wegkruipertjie).

Nou is ons in reikhalsende afwagting vir die tweeling om uit hul gladde huisies te breek!

Die Tweeling (en so bietjie tweedehandse insekte).

In elk geval, dankie vir die kuier, meneer Swaeltjie. Net deur te wees wie jy geskape is om te wees het jy vir God die geleentheid gegee om my gees te help met opstaan vanuit my verbrokkelde aardkors (as die wêreld hard rondom jou ploegskaar draai dan mis mens hoe die meteoriete jou dag na dag tref). Darem het Hy aan die einde van hierdie brief se skryf ‘n reënboog in die hemele kom uit span om die meteoriete te help keer.

Warm groete,
Jou vriendelike waarnemer

Die meteoriet-afkerende reënboë.
Share