Met ons oë gevestig op U val die sluiers van ons harte af,
en word ons van glorie tot glorie verander – net soos wanneer ons U in mekaar met onbedekte oë sien.
Skyn U wonderbaarlike lig uit U tempels, maak elk van ons ‘n aangename geur – van Christus – tot eer van U onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan.
Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is. Broeders, ek reken nie dat ek dit self gegryp het nie. Maar een ding: ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus. Laat ons almal dan wat volmaak is, so gesind wees; en as julle anders gesind is, sal God dit ook aan julle openbaar.
Filippense 3:7-15 AFR53 (klem bygevoeg)
Opstanding uit die dood (en om aan Sy dood gelykvormig te word) is nie net ‘n eenmalige geloofstap wat jy neem nie – dis iets wat ons aangeraai word om daagliks te jaag om te gryp, met die doel om die prys te kry van ons hoë roeping van God in Christus Jesus.
Met God se hulp (wat ek onder andere sien as die Heilige Gees se leiding in ons persoonlike verhouding met Hom en Sy oortuiging wanneer ons Sy woorde in die skrif lees), kan ons, ons ou mens (met al sy verslawings aan die dinge van die wêreld – insluitende al hierdie verskillende vorms van digitale kokaïne wat meeste van ons onophoudelik en blindelings snuif) laat afsterf en in ons hoë roeping beweeg.
WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;maar sy behae is in die wet van die Here, en hy oordink sy wet dag en nag. En hy sal wees soos ‘n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit. So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.
Psalms 1:1-4 AFR53
Soek ons die Here in al ons weë en bring lewe en vrugte voort? Of is ons dae vol kaf wat die wind verstrooi?
Die een waar ons gewrigte en bene droog en uitgeteer voel, en kraak en knak van die daaglikse verstek. Waar die seesand ons verrimpelde voete weg kerf en die water stewige lae sout oor ons spoel. Waar ons oë soos ou kole smeul in die knersende koue van winter, wat ook ons vleis hard en koud giet. Waar ons onsself eindeloos probeer ontdooi met bekers stomende koffie, maar dit ons net al meer bedwelmd laat voel. Waar ander mense agter skerms weg flikker en dit voel of daar geen strome van U lewende waters deur ons vloei.
U is in dit. Met U fluisterstem – naby genoeg dat ons U kan hoor as ons maar net ‘n oomblik vat om tussen ons knorre, gromme en verstrengelde gewoontes te kan luister.
Ek onthou dit goed – jou oë het geblink soos twee kraletjies, en jou modderbruin veertjies het deur die druppeltjies mis gefladder – mis wat die koue Augustus son hard na die hemel toe probeer trek. Jou donker kloutjies het saggies – soos klein wurmpies – aan die vaagweg-bekende murasie teen die dak geknyp.
Jy was by die regte adres, maar jou huis het ongelukkig in die donker wolk na jou seisoenale wedervaart verbrokkel – die konstante kners tussen somer se droogte en die damp van die koue atlantiese waters het jou konstellasie van vleiland spoegsels kom verswak. En toe jou blinkvlerk teenstaanders met hul bloeddorstige snawels jou vere kussings kom verniel, het jou modderhuis sy laaste asem uitgeblaas. Dit was ‘n saak van treur – selfs die wit wolf se nat neusie het geklink of dit snik soos hy deur die stukkende donsies en klonte snuffel.
Ek’t jou huis darem op geborsel en gesaai in ons plante in – hulle kon doen met meer van ‘n huis soos joune.
Jou vere kussings en die murasie.
Terwyl jy weg was het daar ‘n koerende pokkel kom nes vat tussen die hoë kratte en struikelende lug-plante. Ons het hom vinnig gedoop – Sarel. Ons duif; die een wat alewig geterroriseer word deur ons wit wolfie.
Sarel onder sy (vorige) huis.
Sarel het op die ou end vrou gevang (die uwe Sandra) – julle geveerdes laat dit nogal maklik voorkom. Dis iets waaroor ons gemengde gevoelens gehad het – ons was bly vir hom, maar die kas onder hulle nes moes waai (p.s. ons verkies loshande julle boumateriaal, hulle s’n het net bestaan uit tweedehandse insekte…).
Die wit wolf besig om ‘n onskuldige langbeen ding te terroriseer.
Die skuif was maar net-net betyds. Na ‘n paar uur se sinnelose fladder teen die dak en muur vas, het hul besluit om nes te maak in ons potplant, waarin Sandra twee dae later geboorte geskenk het aan twee, gesonde, spierwit eiers.
Siestog, ek moes die plant skuif sodat Sarel nie nat reën nie (ek sien nie baie vir Sandra nie, sy speel goed wegkruipertjie).
Nou is ons in reikhalsende afwagting vir die tweeling om uit hul gladde huisies te breek!
Die Tweeling (en so bietjie tweedehandse insekte).
In elk geval, dankie vir die kuier, meneer Swaeltjie. Net deur te wees wie jy geskape is om te wees het jy vir God die geleentheid gegee om my gees te help met opstaan vanuit my verbrokkelde aardkors (as die wêreld hard rondom jou ploegskaar draai dan mis mens hoe die meteoriete jou dag na dag tref). Darem het Hy aan die einde van hierdie brief se skryf ‘n reënboog in die hemele kom uit span om die meteoriete te help keer.
suutjies wriemel kleine baba se naeltjies teen haar buik, terwyl haar oë weg gluur na die alledaagse stryd. sy ogies traan onwetend, sy neus se snorkies kruip – maar haar ore stomp hul af; hordes ander kwale fluit. “vergeet my nie, o skepper! dit is my hart se pleit.” haar kop kap klippe; sy probeer die dood ontwyk. “ek’s saam met jou vir ewig, in jou hart gaan ek bly sluip.” begin tog vinnig binne waak en sien lewe daarso wyk! Ek wens ek kon nog meer sê, maar jy moet dit self begryp; ons het een voet binne tyd, en ‘n ander in die ewigheid.
Inward Gaze
the tiny baby softly fondles his nails against her belly, while her eyes stare away towards the everyday struggle. his eyes tear unbeknownst, his snores are cutesy-crawly – but her ears keep themselves blunt; hordes of other ailments whistle. “don’t forget me, oh creator! this is my heart’s plea.” her head is crushing stones; death’s what she’s trying to evade. “I am with you forever, in your heart I’ll always be.” please quickly shift your gaze inward and find life living there! I wish I could say more, but you yourself will have to perceive; we have one foot within time, and another in eternity.