Waar is U in hierdie situasie?
Die een waar ons gewrigte en bene droog en uitgeteer voel, en kraak en knak van die daaglikse verstek.
Waar die seesand ons verrimpelde voete weg kerf en die water stewige lae sout oor ons spoel.
Waar ons oë soos ou kole smeul in die knersende koue van winter, wat ook ons vleis hard en koud giet.
Waar ons onsself eindeloos probeer ontdooi met bekers stomende koffie, maar dit ons net al meer bedwelmd laat voel.
Waar ander mense agter skerms weg flikker en dit voel of daar geen strome van U lewende waters deur ons vloei.
U is in dit. Met U fluisterstem – naby genoeg dat ons U kan hoor as ons maar net ‘n oomblik vat om tussen ons knorre, gromme en verstrengelde gewoontes te kan luister.