Eensaamheid

Eensaamheid krap
aan my verwaarlose deur
soos ‘n onskuldige hondjie
aan ‘n koue staal plaat.

Dit kerm soos die skerp wind
deur die leë hoeke
van verbrokkelde murasies
in ‘n droë Namibiese woestyn.

Wanneer daag
my hawe uiteindelik op?
Wanneer verlig haar lewende oë
hierdie doodstil vertrek?

Hoekom sleep my siel so swaar
aan hierdie blou anker
wat my geswikte enkel
aan die harde seebodem haak?

Moet ek groot en wys word?
Net besef waar ek geplaas is?
Is ek so geheg aan die bekende
dat ek ‘n onbekende diepte mis?

Verlig asseblief my siel o Vader!
Ek smag om te sien
hoe U my deur hierdie
skeurende eensaamheid wil bedien.

Share