Ek slaat my moë oë op na die vertes
en na die grys en blou gebergtes:
O van watter groen tit of bruin tuit
sal my noodhulp vandaan spruit?
Almal het hul sewe sakke sout om te sleep,
en die wêreld se kloue wat aan hul hakke vreet,
maar waarom sal ons onverstandig fluit,
en boonop als, nóg vlees-messe slyp?
Hoekom knor en bor ons soos dagblinde vyande,
en wurm ons ons hondsdolle stomp tande
in mekaar se snerpende seer snyplekke –
wat ons net verder onvergewend laat verskewe?
Wanneer spuug ons hemels-helende vuur,
gegenereer uit ons gees se natuur?
In plaas dat ons kwyl, met bruisende borrels,
wat lyk en ruik na jaaroue vleeskleurige kerriekots.
O my hulp spruit vanuit die liefdeshart van die Here,
die skepper van die nabye hemel en die verregaande aarde,
ja mag Hy die splinters en die balke in die niet in laat verdwyne.