Waarna Staar Jy

“Waarna staar jy?”
vra Seuna vroom. 
“Na die realiteite, 
die vaandels,
en die feite. ” 
antwoord Hy stadig
– die Eeu Oue Boom. 

“Maar… is dit…
waarheid?” 
vra Seuna,
diep geïnteresseer. 
“Bo-na-tuur-lik nie, 
My lief kind -” 
dreun die Wind
Sy hart se longe uit – 
“Dit is maar net
klinkende metale, 
luidende simbale.

Want jy weet, 
die ware liefde
raak nie bitter nie
reken nie kwaad toe nie
bedek… alles
glo… alles
hoop… alles
verdra… alles.” 

Seuna vra toe, 
effe ingetoë:
“Pappa, waarom blyk
Jou lyf, Jou liggaam
só seer geboor?”
En Hy antwoord,
met ‘n getraande oog
“Want My kinders
kyk, en handel met
mekaar, deur
hulle eie oë.”

Share