Afrikaans

Om Mee te Gee

Skaamte klop wanneer die see se stilte
asemrowend reusagtig raak –
wanneer mens se hawelose hart
te veel, te swaar, skipbreuk gely het
en nie nog ‘n keer die rou rotse wil smaak nie.

Stilte sluip in wanneer jou gebroke gedagtes
en halwe handelinge só geruis opwek
dat enige suiwer, sout-smeulende seine
deur jou onwetend-wetende ore
voluit versmoor word.

Diepe-slaap kom kuier wanneer mens nie eers
meer wil probeer probeer nie –
dat die gruwe grond, vir jou droog-gehuilde oë,
na ‘n amper aantrekliker opsie bly blyk –
eerder as om jou bloeiende hart dalk bloot te stel
aan enige iets wat jou huidige toestand kan verbrand. 

Frustrasie bly darem hardboudig sit,
soos ‘n getroue oumensie op ‘n sitkamer-stoel, 
om die waarheid te onderskei; 
dat jou skreeuende gaste die swakkeres verdoof –
en dat jy weer gekonfronteer kan word met die kies van ‘n daaglikse keuse:
watter lewend- of doodmakende wil,
gaan jy vandag laat meegee.

Share

Onvoorwaardelik

Een ding is kruisend vas genael:
Sy liefde is absoluut onvoorwaardelik.
So die flym mes teen jou verlore hart,
en die kokende klip teen jou kwaadaardige kop,
kan jy maar terug na die genadige grond toe smyt.

Laat jou daaglikse doene en late dan nuut
hierdie alomteenwoordige waarheid weerspieël.
Draai jou huidiglik-kronkelende paaie,
En swaai jou deurmekaargekrapte standaarde –
Jy is ‘n onvoorwaardelik-geliefde kind van ‘n almagtige, herskeppende God.

Share

Berge en Watervalle

Bruisend, wit, worstel, warrel en weef die blitsige strome deur en oor die swart stene wat tydsvas anker op die majisteuse watervalspunt.

Die water val van ver af manjifiek soos ‘n bruid se sleep, sag en fyn geweef, so of gravitasie van sy werk vergeet. Maar tog neuk dit hard neer, soos tuimelende hammers, op brawe rots en plant, wat bo alle verstand hul man kan staan en nie weg spoel soos meeste sand.

Die mens is interessant deurdat hierdie reuse beeld so vloedend sy aardse verstand so deurmekaar kan kam. Soveel krag sprong eintlik vanuit die onsienlike hartkamers van die berge, wat die hemelse reënbuie deurlopend met miljoene klein druppels vol tap.

Daar is eintlik só baie krag daarin om perspektief te skuif, soos Paulus ons uitermatig eenvoudig wys. Want “ons wat God in die Gees dien” leef allereers binne die berg, die aardsdraad van die supremawerklikheid, sodat die onsigbare vloede wat in die onsienlike ewigheid borrel die realiteit in kan stroom, in al die kleinste en sagste vorme, en dit hierdie ongetemde wêreld deur die voortvloeiende watervalle bonatuurlik, en kragtig, weer terug na Eden toe kan sluip.

So, kortom, ek preek vir myself, soos my mieliepit dit maar verstaan, leef eerstens vanuit en in die geestesrealiteit, sodat jou vertrekpunt nie die punt van die waterval is nie. Want op die beste sal ‘n piepiestraaltjie al wees wat jy deur jou eie twee modderhande kan bereik.

Share

Brood en Vuur

Soos ‘n rots,
staan jy
met jou brood
in die een hand
en jou vuur
in die ander.

Die ewige gekners
van stomp tande
kom tot ‘n einde
wanneer jy jou
eie swaard
laat val
en Myne opneem.

Vergeet. 
Vergeet van die ou dinge
want dit trek jou oë
van my spore af.

Onthou. 
Onthou wie jy was
voor tyd
jou kom skommel het.

My swaard brand
met ‘n wit vuur
en dit sny
deur jou rotse
om murg en been
te skei.
So staan vas
In My
terwyl ek
wat oud is
sloop
en wat heilig is
na vore bring.

Leer My ken
vir wie Ek is
en nie vir die beeld
wat jy van My
gemaak het nie.

Share

Waarna Staar Jy

“Waarna staar jy?”
vra Seuna vroom. 
“Na die realiteite, 
die vaandels,
en die feite. ” 
antwoord Hy stadig
– die Eeu Oue Boom. 

“Maar… is dit…
waarheid?” 
vra Seuna,
diep geïnteresseer. 
“Bo-na-tuur-lik nie, 
My lief kind -” 
dreun die Wind
Sy hart se longe uit – 
“Dit is maar net
klinkende metale, 
luidende simbale.

Want jy weet, 
die ware liefde
raak nie bitter nie
reken nie kwaad toe nie
bedek… alles
glo… alles
hoop… alles
verdra… alles.” 

Seuna vra toe, 
effe ingetoë:
“Pappa, waarom blyk
Jou lyf, Jou liggaam
só seer geboor?”
En Hy antwoord,
met ‘n getraande oog
“Want My kinders
kyk, en handel met
mekaar, deur
hulle eie oë.”

Share

Suutjies Bid

Handjies toegevou
Sit sustertjie
Toe oog
In die koor.

Suutjies bid sy
Sodat haar pappa
Haar sagte stemmetjie
Sal kan hoor

– Want die dreun
Van albasterstem Le Roux
Het al telbare kere
Haar stem versmoor.

“Jirre asseblief
Ek smeek U
Al heel aand
Oor en oor!”

En toe sy
Haar asempie snik
Toe’s die lied verby
En klap die gehoor.

Share

Tree Terug en Vra

Jy meet my op
met jou liniaal
van reg en verkeerd
en word ek
opgesom om
die een te wees
wat myself af skei
blind beweeg soos
‘n muis in ‘n tonnel

van onoorspronklikheid

kom die dood
want jy word versmoor
en die vleeslike
neem dalk oor
want om myself
uit te vee
deur myself
te gee
gee vir jou niks

om meer te leef

beteken ek moet
leer om myself
te wees en
om te kan
triomfeer maar
rigting kom nie

uit mens self uit

kan min oorwin
want dis uit krag

wat mens nie het nie

kan jy kry as jy Hom maar net vra.

Share

Jou Begeerte

My honger
besef ek nou
is na jou

begeerte

en hoe meer
Ek jou gesoek het
hoe meer
het Ek
myself verloor
eintlik vermoor

jou dalk versmoor

want jy kon
nog nie
oopmaak
en my toelaat
om jou wêreld
te word nie.

En ek het
met my rou hart
vir jou ‘n hawe
probeer skep
maar jou skeep
het sover net
in die oseaan
bly lê.

Share

Eensaamheid

Eensaamheid krap
aan my verwaarlose deur
soos ‘n onskuldige hondjie
aan ‘n koue staal plaat.

Dit kerm soos die skerp wind
deur die leë hoeke
van verbrokkelde murasies
in ‘n droë Namibiese woestyn.

Wanneer daag
my hawe uiteindelik op?
Wanneer verlig haar lewende oë
hierdie doodstil vertrek?

Hoekom sleep my siel so swaar
aan hierdie blou anker
wat my geswikte enkel
aan die harde seebodem haak?

Moet ek groot en wys word?
Net besef waar ek geplaas is?
Is ek so geheg aan die bekende
dat ek ‘n onbekende diepte mis?

Verlig asseblief my siel o Vader!
Ek smag om te sien
hoe U my deur hierdie
skeurende eensaamheid wil bedien.

Share

Om te Los

om te los
te skei
om te pos
te sny

die grond
van gras
die hond
van blaf

maak dit vry
om te isoleer?
maak dit bly
om te ignoreer?

is God liefde
in my en jou?
is Sy briewe
in ons toegevou?

moet nie versmoor
hoe sal hul Hom sien?
moet nie stoor
hoe sal Hy hul bedien?

God het ‘n agenda met
jy daar en jy daar
God smag eenheid tussen
jy daar en jy daar.

kyk verby die balke
na die lig binne
kyk vanaf die hemele
na Sy groter prente.

…asseblief ❤

Share