Afrikaans

Wemelende Wanorde

Dit is maar met
‘n lang lyf
wat mens moeg
die horrel huis
bedaard betree
en sieldodend sien
dat die klosse kakiebos
dit nog oerwoudelik oorrompel.

Dis maar ‘n seer straf
nadat jy klaar kapoet
heeldag heen-en-weer 
die buite grond gaar
bewend bewerk
het en dan nog nodig
het om jou hele huis
van ‘n orige orkaan
se slap skade
treurig terug te timmer
na hoe dit waarlik was
die vorige ander aand.

Gee ons krag vrymoedige Vader
ons voel versmoor
deur pleitend te probeer
om die ordinêre orde
van kop bo bakke bly
volhoubaar te volhou
en as blerrie beloning
vyf sakkies sekondes
oor te hê om net neerhalend
en moer moeg
ons pakke passies
te moet laat groetend gly
want ons sukkel so
om na al die orde se skep
net wakker te probeer bly.

Share

Hartsdood

Waarom blyk haar tronk-gedompelde hart,
Onder die staat se standaard part;
‘n bloedbevlekte, brakbruin uniform,
so vrek naby aan die dood se dodenorm?

Het die lewe dalk ‘n skelm skoot geplant,
Of ‘n beenkrakende panzer-slag laat land,
Sodat die briesend-vriesende lug,
‘n gaping kon vind en in haar hart in vlug?

Of het die partydige – dalk vyandige – blik-koppe
Met hul hoë definisie fosfor gloeilampe
En knor van duisende krullende induktors
Haar neuronbane laat verander in gekruide wors?

Is dit dalk soos met ‘n klein pienk pasgeborene?
Verlang sy na die eenvoudigste vorme van menseverhoudinge;
Fisiese kontak, en die basuin van haar hart-sirene?
Sodat wie okal naby is haar net kan hoor en sus tot vrede.

Ek vermoed haar hart, soos myne vandag,
Benodig die eenvoudige wedersydse fluister se krag,
Tussen ons en ons Skepper, ons eerste Liefde,
Want daarsonder bly die diepste dele van ons harte klaarblyklik… Dood.

Share

Overligstandig

Ek slaat my moë oë op na die vertes
en na die grys en blou gebergtes:
O van watter groen tit of bruin tuit
sal my noodhulp vandaan spruit?

Almal het hul sewe sakke sout om te sleep,
en die wêreld se kloue wat aan hul hakke vreet,
maar waarom sal ons onverstandig fluit,
en boonop als, nóg vlees-messe slyp?

Hoekom knor en bor ons soos dagblinde vyande,
en wurm ons ons hondsdolle stomp tande
in mekaar se snerpende seer snyplekke –
wat ons net verder onvergewend laat verskewe?

Wanneer spuug ons hemels-helende vuur,
gegenereer uit ons gees se natuur?
In plaas dat ons kwyl, met bruisende borrels,
wat lyk en ruik na jaaroue vleeskleurige kerriekots.

O my hulp spruit vanuit die liefdeshart van die Here,
die skepper van die nabye hemel en die verregaande aarde,
ja mag Hy die splinters en die balke in die niet in laat verdwyne.

Share

Katjieklein Pitte

Die pennesteek van koue kennis,
prikkel die ballonne van hoop,
geloof en liefde. Dit beroof dit,
wat die harte aan mekaar wil knoop.

Vader skil daardie harde groen
doppe, sodat die kners van harde streep
koppe, sal vervang word met die deel
van soetsmaaklike vleespienk harte.

En die katjieklein pitte,
in sagte grond sal val,
om die Boom van die Lewe,
met sy genesende blare,
aan te vrug te stel.

Share

Onpenbare Gedig

Met ‘n amper onhoorbare
gekners van flukse vlamme
sny die Skepper se latente lig
die stowwe diep binne drie berge.

Fluitend week en wasem,
die kole in die binnegrond balsem,
soos dit die rook uitdruklik uitasem,
en Sy karakter intiem inasem.

Dit is agter die woes en waansin,
waar Sy hande beitelend begin,
om Sy goue woorde in hul te ontgin –
elk ‘n ander gedig om te begryp en besin!

Maar Sý gedig is byna onpenbaar – valk-vlink!
Dit spring reg verby die bietjie dof en baie blink,
vinnger as wat enige oë se waterige idee-ink
die volle aktua’ daarvan identiek kan laat insink.

Gelukkig in vandag se tik en tyd,
sal die berge se (an)atomiese klokke ontploffend ontsluit,
en deur die warboel waarskynlikheid
dele van Hom onthul – en Sy gedigte bruid!

Daar is nou vier wat in die bergvuur-waarheid wandel,
geeneen kreun, of dra ‘n langgerekte letsel,
en die voorkoms van die vierde skyn warempel
‘n godeglans van die bonatuurlike Skepsel.

Die Skepsel skryf met Sy vlam-vinger op die harte se sand,
“Julle is duidelike briewe van Christus in die land,
geskrywe nie met ink nie, maar deur my ‘hand’;
die Gees van die lewendige God wat in jul brand.”

Hy het die sterk Suid-ooster en die ou bakoond beveel,
om die as van vervalle kliptafels vaarwel te vee,
en die vlammende vleestafels ‘n galery gee,
sodat Sy briewe kan betoon word aan elke sout see.

Ja die see kyk dalk ‘n berg se rollende kaalvoet klip,
sy balanserende bome en sy lopende lip
heeltemal mis, maar kan nie die kabbelende kus,
en wat in die sand se hart geskryf is met enige marge mis.

Share

Tussen Grom en Blom

Hardhandig klap die golwe skuit,
fluitend skeur die orkaan seil,
huilend kners balke laste,
vastend ly honger muise,
en hul tuiste byna skipbreuk.

Uitputtend bly rotte jag,
nag en dag tussen grom en blom,
kom en gaan van stink reus asem,
bestem om kos te vind.

Aarselend poog ploeg baie husse,
tussen allerhande skyn knopieslandjies,
bandjies wat tussen reuse vingers pleit.

Uiteenlopend sal ons bly gryp…
buiten binne die stoorkamer van eenvoudigheid:

die regte Fokus.

Share

Ek Sien

Die moegheid klem soos ‘n droë lap my sinne vas,
my gedagtes stoei teen die rek wat elke nou en dan my oë toe trek.
Dis moeilik om by U uit te kom Vader,
waarom steun U vreugde my nie?
Ek soek soos ‘n bruinbevlekte en droëlip skaap na U waters, daar waar ek U stem hoor.
Waarom is U riviere so vêr so vroeg in die môre?
My hart is om in U getuienis van my te wandel wanneer die son die aarde bak,
Maar hoekom dra ek steeds slaafs aan ‘n juk wanneer ek voor U aangesig kom kniel?
Die vlees is swak, maar die Gees is gewillig.
Wat mis ek Abba? Haas tog en wys my asseblief die geslote sluis in my siel!

Ek sien…

Vandag werp U die lig op die verwronge gedagtes,
sodat ek anders kan dink,
en môre kan sien hoe ek anderste is.

Share

Die Tydlose Druppel van Hoop

In die begin is selfs die snik van die muur se klok onhoorbaar sag so
tussen deur die gedreun van die murmurerende maan
en al die sterre wat so vassteek in die wol van winterwolke.

In die begin gee my ore hulle lawwe probeerslae om enigeiets te help hoor
maar die swiep van rowende roetines
verdoof en bind my sinne vas met klomp klein tengerige toutjies.

So bietjie later breek die gloeilamp met sy gretige gons
die stilte soos my vingers soekend soos remmerige ratte
die hipotetiese stof op die knoppe van ‘n verhulde sleutelbord slaat.

So bietjie later hoor ek hoe die tydlose druppel van hoop homself plat plak
teen die droë bodem van die emmer wat ek al vir koninklike kere
gebruik om die afvallighede van my woning te was.

Maar nou lê ek net met die bede dat ek môre meer soos vannag vandag
kan stap met ‘n emmer wat omtrent oorloop
sodat ek die onsaligheid van my siel met ‘n messelaarshand kan weg was.

Share

Wie is Jy

Jou ware identiteit, dit is die asemrowende skepsel wat al jou houtjies kreun om na toe bewerk te word, word onthul deur Jesus Christus.

Terwyl my brein bietjie vir ‘n draffie deur ‘n woud gegaan het, het dit die gedagte “klippe” raak getrap. Daarna, soos die gees gedrewe paadjie gekronkel het, het ek deur die skrif gestrompel waar Petrus (wat rots beteken) sy ware identiteit gegee word deur Jesus. Jesus het later volle asem in hierdie eenvoudige naam (en misterieuse identiteit) geblaas:

“Ek verklaar nou vir jou: ‘Jy is Petrus. Op hierdie rots sal Ek my kerk oprig, en al die magte van die doderyk sal dit nie oorwin nie.

Maar die koekie rondom identiteit hou nie net hier op met krummel nie! Verdere huppel in die woud het toe ‘n glasie melk vir my koekieronde kieste geskink: ons elkeen word ingeseën en opgerig in ons identiteit wanneer ons in kontak met Jesus Christus kom!

Daar word beskryf in die skrif dat gelowiges Jesus se liggaam uitmaak, en dat Jesus die “kop”, of “hoof” van die liggaam is. So… ons is deel van Christus, want ons is Sy liggaam!

Daar is geen twyfel dat Jesus direk vir iemand in verhouding met Hom kan seën en bekend maak wat daardie een se identiteit is nie. Maar as ons as die liggaam ons Hoof reg opgeskroef het, sal dit gebeur dat Hy identiteite oproep en bekend maak deur ons.

Mag ons met nuwe (of dieselfde, afhangende van hoe oulik jy is) oë kyk na elkeen wat oor ons pad kom en bewus wees dat Jesus aan ons toutjies kan trek sodat ons mekaar en die res van Sy liggaam in gehoorsaamheid kan seën deur identiteite te herken. Dit is tog lekker om vrugte aan mekaar te hang wat lewe bring ? en nie die vrugte van die wet wat net dood bring nie?

Hier is die vers:

Hy het eers sy eie broer Simon gekry en vir hom gesê: Ons het die Messías gevind — dit is, as dit vertaal word, die Christus. En hy het hom na Jesus gelei. Toe kyk Jesus hom aan en sê: Jy is Simon, die seun van Jona; jy sal genoem word Céfas, wat vertaal word Petrus.

Share

Galmende Gebare

Kraglose woorde soos galmende simbale,
klok ons eie wil vir ieder se kwale.

Hak tog net die Vaderhand ritme!
En wyk tog net met dié aneurisme!

Los die handeknoei van niet en niks,
let ons seisoene – bruik dié Flits.

Bid geïnspireerde note, kerns van krag.
En stuur die gevat met Sy bekwame mag.

Daagliks hoop, daagliks sterwe,
Dis vandag dat ons Sy koninkryk mag beërwe,

Sy reën giet altyd, en sink in ons grond,
Maar mag dit wat groei nie wees wat wond.

Die berge en heuwels druk geregtigheid seer,
Sodat al die dor bome kan verbrand en verskeur.

Sien altyd eerste hin balk hin eie oog,
Want jou broeder spieël… net jou eie voog.

Share